Die aanklaer, Gerrie Nel, het Maandag in die hooggeregshof in Pretoria gesê hy wil Ivan Lin se verslag nagaan voor hy hom ondervra.

Ivan het Maandag ’n deeglike tegniese verslag gelewer oor omringende geraas die oggend toe Oscar sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar in sy huis in Pretoria doodskiet.

Een van Oscar se bure, Michelle Burger, wie se huis 177 m van Oscar s’n is, het die hof in Maart vertel sy het daardie oggend bloedstollende gille gevolg deur vier skote gehoor.

“Op ’n afstand van 177 m is dit hoogs onwaarskynlik, as die gil uit die toilet gekom het, dat ’n luisteraar die gil kon hoor, laat staan die geluid betroubaar interpreteer,” het Ivan die hof vertel.

“As die gil van die badkamer gekom het, kon die luisteraars dalk die geluid gehoor het en onder sekere toestande die geluid moontlik kon interpreteer,” het hy gesê.

Oscar staan tereg weens moord. Hy beweer hy het Reeva deur die geslote deur in sy badkamer vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval.

Die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

- Sapa