Oscar Pistorius het met sy moordverhoor ’n wedloop gehad om te voltooi. Een waar hy die geleentheid gehad het om met die waarheid te hardloop. Tog het hy oor leuens gestruikel en in die proses nie die wedloop voltooi nie.

So het adv. Gerrie Nel tydens sy betoog gesê waarin hy regt. Thokozile Masipa probeer oortuig dat Oscar Reeva Steenkamp op Valentynsdag verlede jaar met opset doodgeskiet het.

Gerrie het gesê Oscar was ’n bedrieglike getuie en dat die hof sy weergawe moet verwerp, want dit is nie redelik moontlik waar nie en allesbehalwe die waarheid.

“Dit het duidelik geword dat die beskuldigde nie die vermoë het om verantwoordelikheid te neem vir enigiets wat hy verkeerd gedoen het nie. Sy houding is dat hy ’n slagoffer van die omstandighede is,” het Gerrie gesê.

Gerrie het voorbeelde genoem waar Oscar nie verantwoordelikheid vir sy dade wil aanvaar nie:

- Ek kan nie daarvoor blameer word dat ek vier skote deur ’n geslote badkamerdeur geskiet het wat die oorledene doodgemaak het nie. Ek kan nie sê hoekom ek geskiet het nie, maar ek kan nie daarvoor blameer word nie.

- Al het ek die vuurwapen in my hand gehad het toe daar ’n skoot in die restaurant Tasha’s “afgaan”, het ek nie die skoot afgevuur nie en Darren Fresco moet blameer word omdat hy my ’n gelaaide vuurwapen gegee het.

- Die getuies jok. Ek hy nooit ’n skoot deur die sondak van ’n motor geskiet nie. Al is ammunisie in my huis gevind, blameer ek my pa; dit is sy ammunisie.

“Op sy eie weergawe was die beskuldigde se optrede so onwaarskynlik dat dit nooit as redelik moontlik waar aanvaar kan word nie,” sê Gerrie.

“Op sy eie weergawe het hy voor die deur gaan staan en direk vier skote op die deur geskiet met die bedoeling om die sogenaamde oortreder dood te skiet.”

Volgens Gerrie het Oscar geweet dit is Reeva agter die toiletdeur en het hy vier goed gegroepeerde skote afgevuur.

Gerrie het ná middagete met sy betoog voortgegaan.