Die aanklaer

Gerrie het die dosent in sport- en oefeningsgeneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad Wayne Derman gevra of hy bekwaam is om kommentaar te lewer oor die verslag van sielkundiges en drie psigiaters oor Oscar se geestelike toestand.

“Sovêr dit die simptome van angstigheid raak, kan ek,” het Wayne die hooggeregshof in Pretoria vertel.

Drie psigiaters en ’n sielkundige het Oscar ná ’n hofbevel 30 dae lank by die Weskoppies psigiatriese hospitaal waargeneem.

Oscar staan tereg weens moord nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar doodgeskiet het. Hy het haar deur ’n geslote badkamerdeur geskiet en beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval.

Die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

Volgens Gerrie toon die uitslae van ’n psigometriese toets op Oscar ’n telling van 70, wat normaal en verwag was.

Wayne het gesê terwyl 70 ’n hoë telling is, voldoen Oscar nie aan die kriteria vir ’n kliniese angssteuring nie.

Wayne het die hof verlede week vertel ’n telling van 70 is ’n grensgeval en die bevindings sou anders gewees het as Oscar se telling 71 was.

“Weet jy nie eers psigiaters wil kommentaar lewer oor psigometrie nie?” het Gerrie gevra.

“Ek weet nie daarvan nie,” het Wayne geantwoord.

Hy het gesê hy is geregtig om kommentaar te lewer op toetse wat op die atleet uitgevoer is.

“Mnr. (Kenny) Oldwage het my gevra en ek het genoem 70 is naby die afsnypunt; hier word dit verduidelik wat die afsnypunt beteken. Ek werk dus nie van enige diagnose nie.”

Kenny Oldwage is deel van Oscar se regspan.

Wayne het gesê hy het voor en ná die waarnemings gepraat met die verdediging se psigiater, dr. Leon Fine.

Hy het gesê hulle het saamgestem dat ’n telling van 70 ’n grensgeval is.

Gerrie het beweer die staat se psigiater, dr. Carla Kotze, sal nie daarmee saamstem nie.

“Jy weet nie wat 71 beteken nie.”

Wayne het geantwoord: “Ek het op my eie navorsing oor angs voorgelê. Dit is sake wat verband hou met dinge wat ek elke dag doen. As ’n klinikus met 20 jaar ervaring dink ek 71 sou iets anders ingesluit het.”

- Sapa