“As die hof aanvaar die beskuldigde het in selfverdediging opgetree, kan hy nie die klag van strafbare manslag vryspring nie,” het die aanklaer Gerrie Nel tydens sy slotbetoë gesê.

“Ons argument is dat die beskuldigde van moord skuldig bevind moet word.”

Oscar staan tereg weens moord; hy word daarvan aangekla nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar geskiet het.

Hy het haar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet.

Oscar pleit onskuldig en beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom sou aanval. Die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

Gerrie het gesê Oscar was gewapen en het deur ’n geslote toiletdeur geskiet. Hy het gevra waarom dit nie dolus eventualis (algemene oorsaak) kan wees nie.

Rakende Oscar se gebrek hê Gerrie gesê die atleet het vier skote in ’n klein vertrek geskiet, wat saam gegroepeer is, met ’n pistool met Black Talon-ammunisie.

Oscar het nooit gesê die skietery was per ongeluk nie, maar dat hy Reeva geskiet het, was ’n ongeluk.

“Gestremd of nie, dat hy gewapen was, is die feit wat die hof moet oorweeg,” het Gerrie gesê.

“ ’n Redelike persoon sou nie sonder rede geskiet het nie. Wat ons hier het, is geen oorsaak. Wat ons het, is ’n ongewapende weerlose vrou wat doodgeskiet is.”

Gerrie het gesê Oscar was ’n gestremde man met ’n vuurwapen wat gereed was om te skiet en dit sou anders gewees het as die toiletdeur oop was.

Hy het gesê Oscar het die rigting van die skote verander, want hy het die klank gevolg soos wat Reeva beweeg het.

Oscar moes die hoek verduidelik waarteen hy geskiet het, maar het nie, het Gerrie gesê.

Gerrie het ook voorbedagte rade bespreek.

“U Edele, wat ons hier het, is nie dat die beskuldigde gewapen was, iets gebeur het en hy die sneller getrek het nie,” het hy gesê.

Oscar moes onthou het waar hy die vuurwapen gehou het, dit gaan haal en uit die sak gehaal het, dit gereedgemaak het vir skiet, na die badkamer teruggestap het, aangelê het en vier skote geskiet het.

Hy het gesê daar sou argumente wees oor wat vooraf beplanning presies behels.

“As die hof die beskuldigde se weergawe afwys, dan het die beskuldigde sy wapen gekry, na die badkamer gestap en die oorledene doodgeskiet,” het Gerrie gesê.

“Hy het daaroor besluit. Dit, U Edele, is vooraf beplanning.”

Gerrie het gesê die badkamerlig was aan toe Oscar Reeva skiet, soos staatsgetuies getuig het.

Die skote is tussen 03:16 en 03:17 die oggend geskiet en daar was geen gille ná die skote nie, het hy gesê.

Oscar staan ook tereg op aanklagte van die oortreding van die Vuurwapenbeheerwet. Hy word aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Gerrie het gesê Oscar was ’n vuurwapen-liefhebber, het die bevoegdheidstoets afgelê en het geweet wat toegelaat word.

Oscar het gesê die ammunisie het aan sy pa behoort, maar Gerrie het gesê dit was nie ’n haalbare verdediging nie, want die wet sê duidelik ’n persoon sonder ’n vuurwapenlisensie mag nie daardie ammunisie besit nie.

Gerrie het sy slotbetoë afgesluit en Barry Roux, SC, vir Oscar, het syne begin.