Volgens die vervolger, Brice Robin, was die medevlieënier alleen aan die stuur van die Germanwings-vliegtuig toe dit weens menslike ingryping “opsetlik” begin daal het.

Hy het gesê: “Die alarms het afgegaan terwyl ’n harde geklop aan die gepantserde deur van die Germanwings-stuurkajuit gehoor kon word.”

Brice het inligting van die vlugopnemer se stemopnemer aangevoer en gesê die medevlieënier was alleen in die stuurkajuit.

Hy het die daling doelbewus aan die gang gesit terwyl die kaptein uitgesluit was.

Daar was blykbaar “absolute stilte in die stuurkajuit” terwyl die kaptein tevergeefs geveg het om terug in die stuurkajuit te kom.

Net voor die vliegtuig neergestort het, kon die geskreeu van passasiers gehoor word, het Brice bygevoeg. Die vliegtuig het die berghelling teen 700km/h getref. Al die passasiers is op slag dood.

Die medevlieënier, Andreas Lubitz (28), was lewend tot die finale impak, het die vervolger gesê.

Bronne: BBC, AFP, Sapa The Telegraph