Die Franse akteur Gerard Depardieu (65) het onlangs erken hy drink nie minder nie as 14 bottels wyn per dag.

Dit ondanks ’n hartoperasie wat hy 14 jaar gelede ondergaan het en ’n motorfietsongeluk waarin hy betrokke was – niks kan die akteur se dranklus demp nie.

Gerard het gesê hy kan nie soos ’n “normale” person drink nie en hy geniet gedurende die dag wyn, bier, sjampanje, wodka en whiskey.

Gerard se liefde vir wyn strek so ver dat hy ’n bekroonde wynplaas bestuur in Medoc, ’n provinsie in Frankryk wat bekend is vir sy wynlandgoedere.

“Ek hou baie van wyn. Ek kan tot 14 bottels wyn per dag drink,” het hy gebieg.

“Soggens net voor tienuur begin ek met rooiwyn of sjampanje. Daarna drink ek weer sjampanje.”

Gerald sê hy wissel dit soms af met pastis, ’n Franse likeur met ’n anysgeur.

“Dan eet ek ’n bietjie kos saam met twee bottels wyn. Smiddae drink ek nog sjampanje, bier en pastis, tot omstreeks vyfuur.

“Later drink ek wodka of whiskey.”

Maar Gerard sê ondanks die baie alkohol wat hy elke dag drink, word hy nooit baie dronk nie.

“Ek hoef net so 10 minute te gaan lê en ’n bietjie soetwyn te drink, dan voel ek weer perdfris!”

Gerard is daarvan oortuig dat hy ’n goeie leefstyl handhaaf.

“Ek gaan nie binnekort lepel in die dak steek nie; ek het nog te veel energie!”

- Joanie Bergh 

Bron: dailymail.co.uk