Prins George van Brittanje gaan op Woensdag 23 Oktober gedoop word.

Kensington-paleis het bevestig prins William en sy vrou, Catherine, se drie maande oue seun sal om 15:00 in The Chapel Royal by die St. James Palace in Londen gedoop word. Die aartsbiskop van Canterbury, die hoogeerwaarde Justin Welby, sal die seremonie waarneem.

Koningin Elizabeth is deels verantwoordelik daarvoor dat die 45 minute lange seremonie in die middag plaasvind. Sy hou vroeër die dag ’n onthaal vir die Koningin Elizabeth-diamantjubileumtrust.

Daar word baie bespiegel oor wie die prinsie se peetouers sal wees en wie die doop sal bywoon. Die besonderhede word eers met die doop bekendgemaak.

Volgens berigte sal dit ’n intieme seremonie wees. Waarskynlik is prinsesse Anne en Sophie, William se tantes, die gravin van Wessex, sowel as prins Andrew en prins Edward, William se ooms, nie op die gastelys nie.

Volgens beweringe sal William en Catherine se skoolvriende Fergus Boyd en Emilia d’Erlanger peetouers wees.

Prinses Beatrice was in 1988 die laaste koninklike baba wat in The Chapel Royal gedoop is. Die koningin en die prinse Charles en William is in Buckingham-paleis gedoop.