’n Motoris het beskryf hoe hy moes uitswaai om te verhoed dat hy oor George Michael ry nadat die sanger verlede week uit ’n motor geval het.

George (49) is verlede Donderdag in die hospitaal opgeneem ná ’n ongeluk op Engeland se besig M1-snelweg toe hy uit die passasiersitplek van ’n Range Rover val. Ben Quince (37) moes uitswaai sodat hy nie bo-oor die ster ry nie.

Ben het reg agter die Range Rover gery en aan die The Sun vertel: “Ek het skielik gesien die agterste deur aan die bestuurskant is oop. ’n Liggaam het verskyn en teen die grond gebons en bons. Hy het tollend in my rigting aangekom. Ek moes links uitswaai. Ek kon hom doodgery het. Ek het in my truspieël gesien hoe vragmotors en motors uitswaai om te verhoed dat hulle hom tref.”

Nog ’n motoris, Katherine Fox, het vroeër vandeesweek vertel hoe sy agteruitgery het om George teen verbygaande verkeer te beskerm terwyl hulle op mediese hulp gewag het. “George het niks gesê nie. Dit het gelyk of hy aan skok ly. Hy het in ’n vriend se arms teen ’n motor gesit,” het sy vertel.

“Die ou wat hom vasgehou het, was bang. Hy het die heeltyd vir George gevra: ‘Is jy oukei, pel?’ Ek dink George kan sy sterre dank dat hy nie dood is nie. As hy in die tweede baan beland het, sou ’n motor hom sonder twyfel getref het. Hy was in die middel van die M1. Ek kon hom omgery het.”

George is steeds as voorsorgmaatreël in die hospitaal. “Hy toon vordering,” sê ’n bron.