Daar het ’n gewas by die 10-jarige vis se kop uitgesteek, en sy eienaar moes kies: ’n operasie of George moet uitgesit word.

Die eienaar, wat in Melbourne woon, het die operasie gekies.

“Sy was toegewyd genoeg om dit te probeer,” het Tristan Rich, die veearts wat die operasie uitgevoer het, aan die radiostasie 3AW gesê. George is vir die halfuur lange operasie met narkose verdoof, en sterk nou aan in sy dammetjie tuis, het Tristan gesê. Hy het gesê die operasie is uitgevoer met drie emmers water, en die eerste twee het verskillende hoeveelhede narkose gehad om die vis te verdoof.

'Soos jy jou kan voorstel, was dit nogal ingewikkeld.'

“Soos jy jou kan voorstel, was dit nogal ingewikkeld; jy moet bloedverlies onder beheer hou. Jy kan net ’n halwe milliliter verloor,” het Tristan van die Lort Smith-dierehospitaal gesê.

“Natuurlik was daar ’n hoë risiko aan verbonde, maar alles het goed afgeloop.”

Tristan het gesê hy weet van goudvisse wat tot 30 jaar oud geword het, en hy het al soortgelyke operasies uitgevoer.

“Die eienaar is nogal geheg aan hom,” het hy gesê.

“Almal raak op verskillende maniere geheg aan hul troeteldiere en dit is nie vir ons om tussen spesies te onderskei nie.”

Tristan het bygevoeg die operasie het ’n “paar duisend rand” gekos. ’n Nuwe goudvis van ’n troeteldierwinkel kos sowat R50.

- Sapa