George Clooney se verloofde het hom drie keer geweier voor sy ingestem het om met hom uit te gaan.

Die Monuments Men-ster, wie se verlowing aan Amal die afgelope week bekendgemaak is, het die menseregteprokureur verlede September tydens ’n klein liefdadigheidsgeleentheid ontmoet.

Hy was dadelik aangetrokke tot haar, maar sy sterstatus het glad nie ’n indruk op haar gemaak nie, en sy sjarme was nie genoeg om haar mening te verander nie.

’n Bron het aan RadarOnline.com gesê: “Amal het dadelik George se aandag getrek en hulle is aan mekaar voorgestel. Hy het geen benul gehad dat sy so ’n suksesvolle prokureur is nie.

“Sy het met ’n paar mense staan en gesels, en nadat hulle aan mekaar voorgestel is, het sy die ondenkbare gedoen: Amal het weggestap van George se groepie af!

“Hy wou onmiddellik meer oor haar weet. Hy het toe oorgestap en gaan gesels met die mense by wie Amal gestaan het. George se Hollywood-persona het haar net nie aangestaan nie.

“George het later die aand haar telefoonnommer gevra; sy wou dit nie vir hom gee nie. So iets het ook nog nooit gebeur nie.”

Die aantreklike akteur het haar nommer toe opgespoor en haar die volgende oggend gebel vir ’n afspraak, maar moes hard werk om haar te kry om in te stem.

Die bron het bygevoeg: “Sy het hom van die hand gewys! Hy was absoluut geskok. Niemand sê nee vir ’n afspraak met George nie.

“Amal het glad nie daarin belanggestel om met ’n akteur uit te gaan nie, maar George het haar eindelik oortuig deur te sê hy wil sy humanitêre werk bespreek.”

Toe hulle eindelik op die afspraak gaan, het George (52) se liefdadigheids- en humanitêre werk die 36-jarige skoonheid geïmponeer.

Die bron het gesê: “Ná hul eerste afspraak was Amal beïndruk deur George se werk in Darfoer, en het sy besef hy is veel meer as net ’n akteur.”