Die 52-jarige hartebreker het gesê dit was omdat hy lig wou werp op dié belangrike gebeure dat dié traumatiese voorval gebeur het.

Die ster van onder meer die fliek The Monuments Men het aan Variety gesê: “Ons is in die middel van nêrens voorgekeer, op ’n plek waar ons nie moes gewees  het nie. ’n Kind van 10 het aangestap gekom met ’n Kalasjnikof-aanvalsgeweer, dit teen my kop gedruk en wou hê ons moes uit die trok klim.”

George het, ten spyte van dié voorval, die streek intussen al talle kere besoek, maar die akteur en vervaardiger hou vol hy voel sterk daaroor om lig op sekere probleme te werp en het geen politieke aspirasies nie. “Ek hou van die vermoë om lig te werp en my stem dik te maak, maar nee dankie vir administrasie en wetgewing; wat ’n nagmerrie!”

George was ná die skrikwekkende voorval ses jaar gelede ’n medestigter van die humanitêre organisasie Not on Our Watch saam met ’n paar vriende, onder wie Matt Damon, Brad Pitt en Don Cheadle.

Hy het vantevore die hinderlaag in ’n onderhoud met Zoo Weekly in 2008 afgemaak en gesê: “Hulle het gewere op ons gerig en gesteel wat hulle kon. Dit gebeur gereeld.”