George Clooney het bekendgemaak waar sy komende troue gaan plaasvind.

Die Hollywood-hartebreker het die Britse prokureur Amal Alamuddin verlede September ontmoet en haar in April gevra om te trou.

En terwyl die ster Saterdagaand ’n Celebrity Fight Night in Florence, Italië, bygewoon het, het hy gesê hulle sien daarna uit om in die land ewige trou aan mekaar te beloof.

“Ek het my lieflike toekomstige bruid hier in Italië ontmoet, en ek gaan oor ’n paar weke in Venesië, van alle plekke, met haar trou,” het hy aan People gesê.

Op die deftige geleentheid ter ondersteuning van die Andrea Bocelli-stigtings en die Muhammad Ali Parkinson-sentrum is die humanitêre prys aan George toegeken.

George en Amal het voorheen hul trouplek geheim gehou nadat hulle glo hul huwelikslisensie in Londen verkry het.

Gerugte doen al maande lank die ronde dat die twee in Venesië wil afhaak.

“Hy het gesê hy is al 12 jaar ’n ereburger van Italië en toe sê hy hy gaan in Venesië trou,” het ’n bron voorheen aan die agentskap gesê van George, wat in Lake Como ’n huis het. “Hy het ook (van die verhoog af) vir Amal gesê: ‘Ek het jou baie lief.’ ”

Us Weekly het voorheen berig Amal se ma het in Junie na die land gevlieg om wette te laat geld waarvolgens aanhangers en paparazzi verbied word om op die groot dag naby sy huis te kom.

© Cover Media