George Clooney het glo ’n restaurant vir sy vrou gekoop vir hul eerste huweliksherdenking.

Dié 54-jarige akteur wou geen steen onaangeraak laat om 365 dae van getroude lewe te vier nadat hy die knoop in September verlede jaar met Amal, ’n menseregteprokureur, deurgehak het nie.

Die paartjie hou daarvan om oor 'n goeie maaltyd te ontspan, daarom het George blykbaar besluit om 'n fortuin te bestee en ’n ganse eetplek vir sy vrou aan te skaf.

“Amal is baie erg oor die Asanebo sushi-restaurant naby hul huis in LA,” het 'n bron aan die Britse tydskrif Now gesê. “Sy kla altyd 'n mens kan nie in Londen ook so lekker eet nie, dus het George sedert laasjaar gesprekke gevoer met Tetsuya Nakao, die eienaar en hoofsjef, oor die moontlikheid om ’n tak in Londen oop te maak. Hy wil seker maak dat Amal altyd toegang sal hê tot hul gunsteling geregte wanneer sy in Londen is.

“Benewens die R6 miljoen wat hy aan huurgeld en toerusting gaan bestee, sal George die restaurant ook bemark. Hy weet dit is ’n goeie transaksie vir Tetsuya, ’n goeie vriend van hom. Vanuit ’n sake-oogpunt reken albei dat dit ’n groot sukses kan wees.”

George gaan glo ook ’n belangrike rol in die samestelling van die spyskaart speel. Hy wil doodseker maak dat Amal enigiets kan kry waarvoor sy lus is wanneer sy die eetplek besoek.

“Al Amal se gunstelinggeregte sal natuurlik daar bedien word,” het die ingeligte bron verduidelik. “Dit sluit in heilbot-sashimi met truffels, spruitkoolslaai met geskroeide kammossels, hamachi met seewier, asook kabeljou-en-blaarslaaipakkies. George dring ook daarop aan dat net die beste vars vis in voorraad is.”

George en Amal het onlangs hul eerste huweliksherdenking gevier by 'n restaurant in Los Angeles. Dit was die perfekte geleentheid vir die Hollywoodster om sy bedagsame geskenk te oorhandig. ‘n Eerste huweliksherdenking word gewoonlik met ’n geskenk van papier gevier. George het soortvan by hierdie tradisie gehou.

“George het die dokumente van die restaurant aan Amal gegee,” het die bron voortgegaan. ”Dit is 'n onkonvensionele geskenk, maar dit is perfek vir Amal. Sy is dol daaroor.”

George het sy spandabele geskenk geheim gehou toe hy onlangs uitgevra is oor sy planne vir sy eerste huweliksherdenking. “Ons het beslis pret,” het hy geglimlag terwyl hy in September op die rooi tapyt was vir die 15de herdenking van sy rolprent O Brother, Where Art Thou? in New York. “Ons het 'n heerlike huweliksherdenking gehad.”

© Cover Media