Die 52-jarige akteur het behoorlik aangelê by die Desperate Housewives-aktrise, wat hy al jare lank ken, toe albei in Maart in Berlyn was, maar Eva (38) het gesê sy sal eers belangstel wanneer hy ’n enkelloper is.

“George het flikkers vir Eva gegooi. Hy het vir haar gesê hy is steeds saam met Stacy, maar beplan om haar te los en dat hy saam met Eva wil wees,” het ’n bron aan Us Weekly gesê.

“Toe Eva vasskop, het hy vir haar teksboodskappe gestuur en haar gebel. Eva het dit duidelik gemaak sy sou nie met hom uitgaan tot hy ’n enkelloper is nie. Daar het toe niks van gekom nie.”

George en Stacy het onlangs uitgemaak, maar Eva het intussen liefde gevind met Ernesto Arguello wat gespeel het in die werklikheidsprogram Ready For Love, wat sy vervaardig het. “Sy is baie gelukkig saam met hom,” het die bron gesê.

Hoewel George en Stacy nie meer saam is nie, is dit glo die voormalige WWE-ster wat die verhouding verbreek het. “Hulle het maande laas seks gehad. Stacy was ook nog altyd onafhanklik en het haar op haar werk toegespits,” het die bron vertel. “Sy het keelvol geraak vir die afstand tussen hulle en met hom uitgemaak.”