Sandra Bullock het met een van George Clooney se beste vriende uitgegaan.

George ken Sandra (49), wat saam met hom in Gravity optree, al meer as 20 jaar. Hy onthou hoe opgewonde hy was toe sy in 1993 haar eerste rol gekry het. Sy het toe met een van sy beste vriende uitgegaan.

Die 52-jarige ster het Dinsdagaand tydens die New Yorkse première van die ruimtedrama aan People.com gesê: “Sandy is die beste. Ons is al baie lank goeie vriende. Sy sê graag dis 20 jaar, maar dis ’n bietjie langer. Die blote idee om saam met haar te werk was wonderlik.

“Sy het ’n lang ruk met een van my beste vriende, ’n dierbare vriend, uitgegaan. Ek het haar leer ken voor een van ons suksesvol geraak het. Toe het sy ’n groot rol gekry in die Sylvester Stallone-fliek (Demolition Man) – dit was haar groot deurbraak in die rolprentwêreld – en ons was almal baie opgewonde vir haar.”

Die bekende oujongkêrel het ook gesels oor sy band met Sandra se seun, Louis (3). Sy het Louis in 2010 aangeneem en onlangs vertel hy geniet dit om saam met George “mannetyd” deur te bring.

George het gesê: “Ek en Louis het basketbal gespeel. Die regisseur Alfonso Cuarón en Rande Gerber was ook daar, en Louis het na ons toe gekom en ons het dinge saam gedoen. Dit was pret, maar ek wens Sandra wil ophou om die storie te vertel, want dis besig om my reputasie te ruïneer.”