Die 53-jarige akteur het die Britse prokureur (36) verlede maand die jawoord gevra en hulle wil in September afhaak by sy huis langs die Como-meer in Italië of in Cabo San Lucas, Mexiko.

’n Bron sê: “Hy sou vandag met haar getrou het as hy kon, maar hy wil vir haar ’n droomtroue gee. Dit is haar eerste en hy wil hê dit moet haar laaste wees.”

Die mooi brunet se konserwatiewe Libanese ouers wil ook graag hê die paartjie moet so gou moontlik voor die kansel staan.

Die bron het aan die tydskrif Us Weekly gesê: “(Hulle) is oudmodies wat sulke goed betref. Hulle verwag ’n kort verlowing.

“George sal enigiets doen om haar gelukkig te maak.”

Die twee het hul verlowing op 11 Mei saam met 20 goeie vriende by die Café Habana in Malibu, Kalifornië, gevier en die U2-voorsanger, Bono, het toe die lied Wonderwall vir hulle gesing.

Die Monuments Men-akteur wil glo ’n nuwe blyplek in Londen koop, want Amal wil nie haar loopbaan verskuif nie.

’n Bron het verlede week beweer: “Amal wil haar werk voortsit en George is baie ondersteunend en trots op haar loopbaan. Hy gaan binnekort Londen toe sodat hulle daar saam ’n nuwe huis kan soek.”