Die Hollywood-hartebreker George Clooney (52) gaan dalk met die voormalige beroepstoeier Stacy Keibler (33) uit, maar hy is steeds bevriend met sy eks Lisa Snowdon. Hulle het van 2000 tot 2005 aan en af uitgegaan.

Lisa (41) het gesê: “Ek het hom lank laas gesien, maar ons stuur vir mekaar teksboodskappe. Hy is ’n goeie ou. Daar is mense in jou lewe saam met wie jy ’n wonderlike tyd gehad het. Dan is dit lekker om as vriende in aanraking te bly. Daar is geen kwade gevoelens nie. Ons is pelle.”

Lisa, ’n voormalige aanbieder van Britain’s Next Top Model, het onlangs die kans gekry om met Justin Timberlake skouers te skuur toe sy mede-aanbieder van ’n popkonsert in Brittanje was. Sy het erken sy was effens oorweldig.

Sy het aan die tydskrif new! gesê: “Dit was regtig koel om saam met hom te werk. Die repetisies by Wembley was baie informeel en ons het ’n bietjie geskerts. Ek het beslis soos ’n baie gelukkige vrou gevoel.

“Toe ek Stevie Wonder ontmoet het, kon ek letterlik nie praat nie. Met Justin moes ek herhaaldelik vir myself sê ek moet kalm bly. Ek raak ook steeds opgewonde elke keer dat ek Johnny Depp sien. Sy dromerige, sjokoladebruin oë maak my kop skoon deurmekaar.”