Vloekwoordjie van Bloemfontein se brief oor Suid-Afrikaners se liefde vir kru taal het duidelik iets aangewakker by Huisgenoot se lesers, want die brief was skaars op ons webtuiste, toe begin kommentaar instroom van mense wat saamstem.

"Wat my die meeste irriteer, is die gebruik van die Engelse uitdrukking OMG," skryf Gerhard per e-pos aan Huisgenoot. "Gelukkig bestaan hierdie gebruik nie in Afrikaans nie en hoef ons dit nie in elke tweede sin in te werk sodra iemand 'n bietjie opgewonde raak nie."

Ook Letitia het per e-pos laat hoor mense wat vloek, beïndruk haar geensins nie – en sê dit "maak haar naar".

"My afleiding is dat 'n vloekwoord gebruik word omdat die gepaste beskrywende woorde nie in jou woordeskat bestaan nie. Vir my beteken dit ook dat jy nie respek het vir die persoon wat jou moet . . . aanhoor nie. Dis niks anders as geraasbesoedeling nie," meen sy.

Tog skryf Leandri op Facebook sy "vloek lekker, maar die Here se naam? Nee, not 'n dêm! Ek sê altyd vloek in die regte sin is net 'n uitlaatklep vir frustrasie, woede of onvergenoegdheid."

Ook Paulina sê: "Wanneer ek my toon stamp, dan se ek b******, maar as jy iemand 'n vloekwoord toesnou, is dit verkeerd".

Vir 'n naamlose briefskrywer lê die antwoord in die Bybel.

"Vloek is nie aanvaarbaar vir Christene nie. In die Bybel staan geen kragwoorde mag gebruik word nie. By my werk is dit meestal vroue wat vloek. Ek is nie 'n engeltjie nie, maar ek sê reguit vir hulle wanneer hulle besig is om my ore te verkrag."

En net omdat jy nie van 'n swetsery in jou ore hou nie, beteken nie jy dink jy is beter as ander mense nie, meen nog 'n briefskrywer.

"My familie, vriende, kollegas, my man en my kinders weet om te vloek in my geselskap is taboe.

"Nie dat ek enigsins dink ek is beter of meer afgerond as enigiemand anders nie. Maar my woorde skilder my karakter. Hoe kan jy God loof en aanbid met dieselfde mond waarmee jy net daarna onvanpaste woorde voortbring om jouself uit te druk?" skryf Mataniah.

Sy vertel haar verbasing was groot toe sy onlangs by 'n opleidingsessie saam met kollegas moes hoor hoe die sessie se aanbieder vloek - en dit nogal tydens 'n praatjie oor etiket.

"Wat my die meeste ontstel het, was dat ons 'n sogenaamde Christen-organisasie is met Christelike waardes en amper al ons personeel hulself kerkgaande Christene noem. Vir hulle was haar woorde aanvaarbaar en niemand het enigiets daaroor te sê gehad nie.

"Is die deler nie so goed soos die steler nie? As ons stilbly oor iemand se woorde, skilder dit ook ons karakter."