Die akteur van The Shawshank Redemption Morgan Freeman is siek en sat daarvoor dat mense hom vra om komiese boodskappe vir hul stemposstelsels op te neem.

Hy gebruik al lank sy kenmerkende stem vir stemoordragwerk. Hy het die inleiding tot die CBS se Evening News verskaf, ’n verhaal vir ’n televisieprogram van Discovery Channel gedoen en in Strange Clouds, B.o.B se tweede album, verskyn.

Bewonderaars vra gewoonlik die beroemdes hul handtekening of om ’n selfie te neem, maar mense keer Morgan dikwels voor en vra of hy ’n boodskap op hul foon sal laat.

“Dit raak uitputtend,” het hy tydens ’n onderhoud op Late Night with Seth Meyers gesê. “Weet jy, ek kan jou nie sê hoeveel keer ek al moes sê: ‘Hello, dis so en so’ nie.”

Morgan verkies nou om liewer nie boodskappe te laat opneem nie. Hy het nie eens sy eie stemposopname op sy huistelefoon nie.

Morgan se geheim vir dáárdie stem.

“Ek het die volmaakte, die absoluut volmaakte telefoonantwoorder (sic). Die kêrel wat die stelsel geïnstalleer het, was ’n suiderling met die allerverskriklikste Mississippi-draalstem wat jy al ooit gehoor het,” het hy gesê.

“Hy sê: ‘Hello, leave a number’. Hy klink so ver van my stem soos kan kom. Hy het dit gedoen om die foon te toets en ek gaan dit beslis nie verander nie. Dis volmaak.”

Die 79-jarige akteur is huiwerig om die stemposboodskap te verander, want die meeste mense gaan dink hulle het die verkeerde nommer en die telefoon neersit wanneer hulle die stem hoor.

Die een mens aan wie se versoek Morgan wel sal voldoen, is Mark Zuckerberg, die stigter van Facebook. Hy het vir Mark die stem vir ’n kunsmatige intelligensie-app, Jarvis, opgeneem.

“Hy het gevra of ek die stem sal wees en ek het geantwoord: ‘Sekerlik’,” het hy glimlaggend gesê. “Dis goed om (Mark) as vriend te hê.”

© Cover Media