"Ons ondersoek opreg die moontlikheid om die Menslike Immuniteitsgebreksvirus (MIV) te genees. Dit is 'n reuse uitdaging en ons is nog vroeg in die proses, maar die vordering wat ons maak is ongelooflik," het Mark Samuels van die Nasionale Instituut vir Gesondheidsnavorsing in Engeland aan die Sunday Times daar gesê.

Navorsers by vyf universiteite in Engeland - van onder meer Oxford en Cambridge - is besig om die nuwe metode op vyftig vrywilligers te beproef.

Dit behels twee fases, waar die liggaam tydens die eerste een met behulp van 'n inenting die MIV-besmette selle opspoor sodat hulle uit die weg geruim kan word. Tydens die tweede fase word 'n nuwe soort medisyne gebruik om dormante selle aan te wakker sodat die immuunstelsel hulle kan optel.

Alle tekens van MIV het reeds uit een van die proefkonyne, 'n 44-jarige maatskaplike werker van Londen, se bloed verdwyn en navorsers hoop hulle is 'n treetjie nader aan 'n oplossing vir die siekte wat wêreldwyd sowat 36,7 miljoen mense affekteer.

HIV SA, 'n plaaslike nie-regeringsorganisasie, het by navraag aan Huisgenoot bevestig dat plaaslike dokters wel bewus is van die nuwe metodes wat ondersoek word en dat dit hopelik eersdaags ook hier getoets kan word.

Bronne: Evening Standard, The Times, The Telegraph.