Die mense het gedink hulle gaan betrokke wees by ’n militêre werwingswerksessie. Die Gauteng-regering het Dinsdag tot die redding gekom van 237 mense in Wonderpark wat deur die slenter gevang is.

Die verdagte, bekend as “genl. Ndaba”, is gister deur die Akasia-polisie in Tshwane in hegtenis geneem.

“Die man het die slagoffers onder die indruk gelaat dat hy werksessies hou om mense vir die weermag te werf,” het Mgangwa Xaba gesê.

Hy het ook aangedui die meeste van die slagoffers is jonger as 30 en van KwaZulu-Natal afkomstig.

Hulle moes na bewering elk ’n registrasiefooi van R300 betaal, R1 800 vir opleiding en nog R200 per maand vir verblyf.

Volgens Xaba het die slagoffers geglo hulle word onder die vaandel van die Amabutho Koninklike Weermag as weermaglede opgelei en dat hulle by die Suid-Afrikaanse Weermag ingesluit sou word.

Ndaba het glo militêre ervaring en was voorheen aan die weermag verbonde, maar dis onseker wat sy rang tydens sy beweerde diensplig was.

Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling en die Akasia-polisiestasie is deur ondere andere 22 maatskaplike werkers, die plaaslike polisiëringsforum en lede van die gemeenskap gehelp om kos aan die slagoffers te verskaf.

“Almal is na die Heilsleër in Akasia geneem en sal van vandag af na hul huis begin terugkeer,” het Xaba gesê.

Die saak teen die “generaal” is tot 5 Julie uitgestel vir ’n formele aansoek om borgtog.

Bron: news24.com