Die top-babaname in 2014 was Noah en Emma, en hoewel dié genderspesifieke name nog gewild is, verkies mense nou uniseks name soos Reese, River, Quinn en Phoenix. ’n Peiling in die middel van die jaar van bykans 185 000 babaname wat by BabyCenter geregistreer is, het getoon ouers is deesdae meer oopkop oor genderspesifieke name. “Die ouer generasie sal dalk verbaas wees met genderneutrale name en dink ’n naam moet die kind se geslag aandui,” sê Pamela Satran, skrywer van Cool Names for Babies. “Maar individue wat universiteitsouderdom of jonger is, is meer gemaklik met die idee dat gender ’n veranderlike konsep is en dat ’n naam met ’n vae gender-identiteit in die haak is – dis verkieslik.”

En dis nie net lukrake persoonlike voorkeure wat hier te sprake is nie, kenners reken die neiging kom as gevolg van ’n verandering in sosiale norme. “Soos gewoonlik weerspieël babaname ’n groter kulturele verskuiwing,” sê Linda Murray, hoofredakteur van BabyCenter. “Millenials is ’n oopkop groep wat dinge makliker aanvaar en hulle wil nie hê hul kinders moet gedruk voel om aan stereotipes te voldoen wat dalk beperkend is nie.”

Speelgoedvervaardigers volg die voorbeeld en talle bly weg van die tipiese pienk speelgoed vir meisies en blou vir seuns. Toys R Us in Swede het onlangs ’n genderneutrale katalogus van hul produkte uitgereik, en die tak in Engeland is besig om weg te doen met aparte rakke vir seun- en meisiespeelgoed en kategoriseer speelgoed nou volgens ouderdom.

Natuurlik, soos met enige witwarm neiging, is Hollywood se glansmense ook aan boord: Mila Kunis en Ashton Kutcher het hul dogter Wyatt genoem en die paartjie Ryan Reynolds en Blake Lively het hul dogter James genoem. En met Caitlyn Jenner se gendertransformasie wat een van die jaar se topstories is, is die neiging nie veel van ’n verrassing nie.

BRONNE: BABYCENTER.COM, YAHOO.COM

Saamgestel deur Lindsay de Freitas