België is die eerste land waar terminaal siek kinders kan kies of hulle met waardigheid gaan sterf.

Kinders van enige ouderdom kan genadedood kies, maar die voorwaardes is baie streng. Genadedood mag net toegestaan word as daar voldoen word aan dié voorwaardes:

  • Die kind moet “by sy bewussyn wees” en “onderskeidingsvermoë” hê. Dit beteken die kind moet die situasie heeltemal kan verstaan en self kan besluit of hy of sy wil sterf.
  • Die kind moet in ’n “hopelose mediese situasie van gedurige en onuithoudbare lyding wees wat nie verlig kan word nie en wat op kort termyn die dood sal veroorsaak”.
  • Die kind moet deur spanne dokters, sielkundiges of psigiaters beoordeel word voor hy finaal besluit, met die goedkeuring van sy ouers.

Die wetsontwerp is in die parlement goedgekeur, met 86 stemme daarvoor, 44 daarteen en 12 lede wat buite stemming gebly het. Volgende moet koning Filip die wetgewing onderteken. Dis gewoonlik net ’n formaliteit, waarna die wetgewing in werking tree.

Die Hippokratiese eed behels dat geen skade aangerig sal word nie, maar hierdie wet neem in ag dat, indien ’n kind ly aan ’n ongeneeslike siekte, sonder hoop op beterskap, die opsie van genadedood aanvaarbaar is.

Die wet, wat deurgeloop het onder kritiek van godsdienstige groepe, maak voorsiening vir die opsie vir wettige, ondersteunde selfdood in spesifieke gevalle waar geen verligting van lyding is nie. Kerkleiers reken die wet is immoreel.

Genadedood vir kinders bo 12 is in 2002 in Nederland gewettig. In België het byna 1 432 mense in 2012 genadedood gekies.

In ’n onderhoud met Deutsche Welle, Duitsland se internasionale uitsaaier, wou dr. Jan Bernheim weet: “Waarom sal jy kinders, wat ongeneeslik siek is en onuithoudbaar ly, nie dieselfde moontlikhede gun as wat volwassenes het nie?”

Jan is deel van die navorsingspan vir terminale sorg aan die Vrye Universiteit van Brussel. Sy sê genadedood wat gegrond is op onuithoudbare sielkundige lyding, word nie roekeloos toegestaan nie.

Deur Megan Bursey

http://www.dw.de/belgian-lawmakers-vote-on-euthanasia-for-kids/a-17245525

http://women.mg.co.za/euthanasia-for-children-is-hard-to-contemplate-but-we-must-talk-about-it/

http://www.bbc.co.uk/news/world-europe-26181615