S UITSMYTER by Kaapse klubs was Johan Hendrickse berug as spierpaleis wat eers met sy vuiste praat en dan vrae vra.

Sy aggressie was legendaries – en hoor jy sy verhaal, verstaan jy hoekom...

Hier in sy woonstel in Tableview lyk die 43-jarige Kapenaar by tye weerloos terwyl hy vertel: Hy was ’n tiener toe ’n onderwyser by ’n spogskool in die Paarl hom twee jaar lank gemolesteer het.

Hy het sy matriekeksamen toe hopeloos gedruip, en langer as twee dekades daarna het hy vergeefs probeer om die ondervinding met steroïede, baie drank en rondslapery uit sy geheue te wis. En nou, eindelik, is hy gereed om daaroor te praat.

“As ek nie my storie vertel nie, sal ek nooit genesing vind nie. Ek wil my kinders ’n drukkie kan gee sonder om enigiets terug te hou, my meisie vashou sonder om skielik sonder rede buierig te raak. Ek is reeds 10 keer beter sedert ek met berading begin het. Ek is reg vir die stryd wat voorlê.”

Die Kinderbeskermingseenheid van die Paarl ondersoek nou die saak, maar ’n skuldigbevinding is nie vir Johan die

belangrikste nie. “As die man na wie ek destyds moes opsien hier voor my staan en verskoning vra dat hy my onskuld en respek misbruik het, sal ek berusting kan vind en met my lewe kan aangaan,” sê hy.

“Dit gaan ook nie vir my om geld in ’n siviele eis te kry nie. Ek wil vir ander mans wys jy kan jare later steeds uitpraat, probeer geregtigheid vind en die vrou in jou lewe behou.”

“Ek sal hom bystaan,” beam sy mooi, blonde haarkappermeisie, Annemi van Deventer (33). “Ek wil hom help, want vroue moet die mans in hul lewe aanmoedig om oor sulke dinge te praat. Wat met hom gebeur het, tas nie sy manlikheid aan nie. Dit is juis manlik om jou gevoelens te kan wys en te kan huil.”

Dekades lank het Johan op al die verkeerde plekke gaan soek na verlossing van die verlede.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 11 November 2010