Randy Tango (31) word daarvan aangekla dat hy Stacha Arends (11) verlede Maandag ontvoer, verkrag en vermoor het. Dit was Maandag sy tweede verskyning in die hof. Dit was veral ’n groep ma’s wat besonder opgewerk was en het as volg oor borgtog vir Randy gedreig: “Ons betaal sommer jou bail dat ons jou kan vrek maak,” het een van die vroue Randy toegeroep. “Ons brand om vir jou te kry.”

Twintig polisiebeamptes het ’n wakende oog gehou terwyl tientalle hofgangers die gebou binnegedring het. Randy het luidens berigte oogkontak met die hofgangers vermy. Hy is Dinsdag deur die polisie ondervra nadat Stacha se lyk is Dinsdag in ’n beboste deel agter die Swartklip binnenshuise sportsentrum in Tafelsig, Mitchells Plain, gevind. Stacha is verlede Maandag omstreeks tweeuur die laaste keer gesien is. Sy sou glo by vriende gaan televisie kyk. Sy is om 19:35 as vermis aangemeld nadat sy die middag by die Mitchells Plain-stadsentrum gesien is.
Randy woon twee huise van Stacha se ouerhuis af. Hy is in Oktober 2016 op parool vrygelaat nadat hy tronkstraf vir motordiefstal uitgedien het. Twee mense is Donderdag in hegtenis geneem vir openbare geweld toe dit bekend geword het dat Randy op die misdaadtoneel was – sy Wendy-huis wat agter sy ouers se huis staan. Traangas en rubberkoeëls is ingespan toe die inwoners van die omgewing gewelddadig geraak het. Bande is gebrand en klippe is na die Tango-huis gegooi.

Randy se familie is intussen na ’n plek van veiligheid geneem. Die saak is tot 3 Mei uitgestel.

Dié voorval herinner sterk aan die moord op nóg ’n tienermeisie op die Kaapse vlakte, Rene Roman van Lavender Hill. Rene het op 10 Maart verdwyn en haar lyk is op 23 Maart gevind. Die 50-jarige man wat vir haar vermeende moord in hegtenis geneem is, het ook in dieselfde straat as sy en haar ouers gewoon.

Bykomende bron: news24.com