“Weens Colin se gestremdhede, is sosiale vaardighede nie vir hom maklik nie en hou die ander kinders nie van hom nie,” skryf Jennifer Cunningham op die Facebook-blad Happy Birthday Colin. “Toe ek hom vra of hy ’n partytjie vir sy verjaardag wil hê, het hy gesê dit is sinneloos, want hy het geen vriende nie.” Die doel van die bladsy, skryf sy, is om haar “unieke seun” spesiaal te laat voel op sy verjaardag, 8 Maart.

Jennifer kon nie voorsien hoe vinnig dié blad sou groei nie. Colin se storie roer wêreldwyd die hartsnare en meer as twee miljoen mense hou al van die blad. En die verjaardagboodskappe stroom in! Mense wêreldwyd skryf vir Colin boodskappies op Facebook, maar dis nie al nie. Daar word geluk gesê op YouTube-video’s en die spesiale posbus wat Jennifer moes kry vir die geleentheid is elke dag propvol koeverte en pakkies.

[caption id="attachment_67950" align="aligncenter" width="600"]Die spesiale posbus wat Jennifer moes kry vir die geleentheid is elke dag propvol koeverte en pakkies Die spesiale posbus wat Jennifer moes kry vir die geleentheid is elke dag propvol koeverte en pakkies[/caption]

Daar bly skaars drie week oor voor sy verjaardag, maar Colin vermoed nog niks. In ’n video wat Jennifer op die bladsy gelaai het, vra sy hom hoeveel geskenke hy verwag en antwoord Colin “Twee.” Sy vra dan: “Wat as ek vergeet van jou verjaardag?” Colin: “Ek weet nie, seker niks!”

Jy kan ook vir Colin ’n Suid-Afrikaanse gelukwensing los op die Facebook-bladsy.