Toe foto’s van ’n hartseer, eensame oupa, wat onder sy kleinkinders as “Papaw” bekend staan, wat ’n burger sit en eet soos ’n veldbrand in sosiale media versprei het, het baie mense met die bejaarde gesimpatiseer en gesê hulle sal enigiets doen om saam met hom ’n burger te eet.

Die 80-jarige Kenneth Harmon se kleindogter Kelsey Harmon het haar oupa gekiek waar hy hartseer lyk terwyl hy ’n burger eet. Sy deel toe die foto op Twitter met die byskrif: “Aandete saam met oupa vanaand . . . Hy het 12 burgers vir al ses kleinkinders gemaak en ek is die enigste een wat opgedaag het. Lief vir hom.”

Lees ook: Die storie agter dié foto sal jou hart breek

Kenneth het ’n kitssensasie in sosiale media geword. Baie mense het innige boodskappe gestuur oor hoe hulle die oupa wou ontmoet en saam met hom ’n burger eet. Twitter-gebruikers het geskryf hulle sal graag by Kenneth gaan eet. Iemand met die gebruikersnaam ?@kngphrn het geskryf: “Jou oupa kan my aanneem. Ek hou van 12 burgers”, terwyl @sassandass geskryf het: “Ek het letterlik ’n paar trane gestort so hartseer is dit :-( Ek sal enigiets doen om weer saam met my oupa te kan aandete eet.” Gelukkig het Kenneth se kleinseun Brock Harmon sy oupa se aanhangers genooi om op 26 Maart in hul huis in Oklahoma saam met hom ’n burger te gaan eet. In sy aankondiging op Twitter het Brock geskryf: “Nou-net klaar met oupa gepraat en hy wil almal nooi vir ’n burger volgende Saterdag” met ’n plakkaat daarby wat die kooksessie adverteer.

A photo posted by Lindsey Vorse (@linseeka) on

Die hartseer “Papaw” het aan die nuuskanaal KFOR gesê dit is fantasties dat so baie mense opgewonde is om sy kooksessie by te woon.

Volgens FoxNews het honderde van sy honger aanhangers opgedaag net om ’n maaltyd met die oupa te deel en dit het hom baie gelukkig gemaak.

Ná die aankondiging op Twitter was baie van “Papaw” se aanhangers gretig om hom te ontmoet.

“Dit was ’n bietjie dol. Ons is oorweldig oor die opkoms en al die publisiteit,” het Rodney Harmon, ’n familielid, aan KFOR.com van Oklahoma gesê. “Daar is mense hier van Pennsylvania, Virginia, New York, Kalifornië, Duitsland,” het hy gesê. Sharon Fernandez het langer as 20 uur saam met haar dogters van suidelike Kalifornië af gery om Kenneth te ontmoet. Sy het aan Oklahoma se News9.com gesê dit was hartseer om die oupa alleen te sien sit.

“Weet jy, dit was hartseer. Hier maak hy aandete vir sy kleinkinders. Maar ek verstaan dit, ons het almal ’n besige lewe.”

Ander aanhangers was weer in ekstase oor hoe baie hulle Kenneth bewonder.

Die oupa was oorstelp van vreugde oor die aandag wat hy kry en het aan News9.com gesê: “Dis meer soos ’n rolprent as die regte lewe.”

Die Harmon-familie het 2 000 burgers bestel vir die mense wat die geleentheid bygewoon het. Dié moes R31 betaal vir ’n burger en sowat R247 vir ’n T-hemp waarop staan: “Ek het ’n burger saam met hartseer Papaw geëet”.

Dit blyk Kenneth het hom gate uit geniet saam met sy aanhangers terwyl baie van hulle tou gestaan het om net ’n foto saam met die 80-jarige te laat neem.

Sy kleinseun Ryan het op Twitter elkeen bedank wat saam met sy oupa kom eet het.

“Ek was altyd iemand wat gedink het die internet is ’n plek waar jy kan sê wat jy wil. Jy hoef nie daarop te reageer nie, maar die internet het vandag ingespring en vir my pa gewys hulle gee vir bejaardes om,” het hy aan KFOR.com gesê.

“Dankie. Baie dankie dat julle jul ondersteuning vir oupa getoon het en ons familie waardeer dit baie,” het Ryan gesê.

Die geld wat tydens die aandete ingesamel is, dek glo uitgawes en die res gaan reguit na die gelukkige oupa.

Bronne: News9.com; KFOR.com; Foxnews.com

Ander stories op Huisgenoot.com

Kyk: Babahondjie ontsnap kake van ’n luislang

Kyk: Die internet op hol oor ‘papierdun’ vroue

Lianie May verklap iets oor haar gesondheid wat aanhangers nie geweet het nie

Anneli van Rooyen praat oor haar siekte: ‘Soms is daar amper niks van my oor nie’