Hulle het hul hartseer ’n jaar ná die moorde op Facebook gedeel.

“Dis ’n jaar gelede sedert jy verdwyn het, toe almal gesoek het, gebid het. Dit voel soos gister,” skryf Laura Harding, ’n vriendin van die vermoorde Krugersdorpse eiendomsagent Hanlé Lategan op Facebook.

Haar lyk is vandag ’n jaar gelede langs ’n stroom op Randfontein gevind. Sy het die vorige aand, 29 Mei, haar familie en vriende vertel sy is onderweg na ’n afspraak met ’n moontlike kliënt, maar is nooit weer lewend gesien nie. Hanlé was na bewering die derde slagoffer van die vermeende afspraakmoordenaars.

Sy is doodgewurg, nes Kevin McAlpine op 26 Mei verlede jaar, en Anthony Scholefield op 10 Mei verlede jaar. (Lees die kassie).

Cecilia Steyn (35), Zak Valentine (31), Marinda Steyn (50) en dié se kinders, Marcel (18) en Le Roux (21), is van altesaam sewe moorde aangekla en hul verhoor begin op 9 Oktober in Johannesburg. Cecilia word as die beweerde meesterbrein beskou.

Joané van Heerden, Hanlé se dogter,‎ skryf op haar eie Facebook-blad: “Daar was so baie dae in die laaste jaar dat die verlange my oorweldig het. Daai dae wat ek snak, snik en alles tussenin. Dit is môre ’n jaar terug. Love you en mis Mamma”.

Hanlé se derde kleinkind is skaars ’n maand ná haar afsterwe gebore. “Sy het nooit die geleentheid gehad om haar derde kleinkind te ontmoet nie,” vertel Hanlé se broer, Ferdi de Wit, aan Huisgenoot.com.

Kevin McAlpine is vermoor net twee dae ná sy eerste huweliksherdenking – en sowat twee maande voor sy vrou, Kezia, die lewe sou skenk aan hul eersteling. Hul baba, Daniel, is nou 10 maande oud

Kort tevore, op 15 Mei 2016 deel Kevin dié boodskap: “Klaar ingetrek in ons nuwe huis, nou tyd om te relax.”

Juanette McAlpine, Kevin se ma, skryf in haar eie huldeblyk op Facebook: “Jou stem is al stil vir 365 dae, jou stoel bly leeg en die verlange en seer word net meer. Ek wens ek kon vir jou ’n briefie stuur net om te sê ek is lief vir jou.

“God het sy mooiste blom gepluk, maar dit was heeltemal te vroeg. Daar was nog soveel wat jy wou doen. Ek mis jou, Kevin, en jou plek in my hart sal nooit vervang kan word nie, die gat is baie groot. Lief vir jou, Kev, forever. Jy was my trots, my alles.”

Juanette het Dinsdag aan Huisgenoot.com vertel die laaste jaar was baie moeilik, veral al die “eerstes”, soos die eerste Kersfees sonder haar seun. Michelle, Kevin se jonger suster, het haar broer se troufoto op haar Facebook-blad gedeel en hom as haar “beskermengel” beskryf.

Die vermoorde Anthony Scholefield se seun, Roland, het aan Huisgenoot.com gesê dit gaan onder die omstandighede goed met die familie: “Ons staan saam. Ons wag vir die moordsaak om afgehandel te word sodat geregtigheid kan seëvier.”

Agt weke is opsygesit vir die verhoor van die beweerde afspraakmoordenaars. Die vyf staan elk op sewe moordklagte tereg, asook 10 ernstige misdrywe.

’n Sesde moordbeskuldigde, John Barnard (40), is reeds op 14 Desember in die Johannesburgse hooggeregshof tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy met die staat ’n pleitooreenkoms aangegaan het. Hy sal kragtens dié ooreenkoms teen die ander vyf getuig.

‘Afspraakmoorde’ verloop glo so


2015:
November: Peter en Joan Meyer van Noordheuwel, Krugersdorp, word in hul huis vermoor. Hulle is van net R700, bankkaarte en ’n selfoon beroof.
Desember: Zak Valentine versin glo sy dood en die straatsmous Jarrod Jackson, van Krugersdorp, se lyk word in Petrus Steyn in die Noordoos-Vrystaat in sy uitgebrande motor gekry.

2016:
Januarie: Glen McGregor (57), rekeningkundige van Krugersdorp, word op sy hoewe by Randfontein doodgeskiet. ’n Selfoon en R6 000 is geroof.
10 Mei: Anthony Scholefield (64), ’n versekeringsmakelaar van Krugersdorp, se lyk word in sy voertuig se bagasiebak op die dorp gevind. Sy selfoon, skootrekenaar en R16 600 is onder meer geroof.
26 Mei: Kevin McAlpine (29), ’n versekeringsmakelaar van Krugersdorp, se lyk word in sy voertuig se bagasiebak op die dorp gevind. Hy is onder meer van sy trouring, skootrekenaar, skoene, horlosie en R1 300 in kontant beroof.
31 Mei: Hanlé Lategan (52), ’n eiendomsagent van Krugersdorp, se lyk word langs ’n stroom op Randfontein gevind. Haar selfoon, goue diamantring, horlosie en R3 000 in kontant is onder meer geroof.
Junie: Twee jong mans word aangekeer, maar aanklagte word later teruggetrek nadat dit aan die lig kom hulle was nie betrokke nie. Le Roux Steyn (20) en Marcel Steyn (18) word in verband met die moorde op Hanlé, Kevin en Anthony aangekeer.
Julie: Zak Valentine word daarvan aangekla dat hy sy eie dood versin het.
Augustus: Marinda Steyn en Cecilia Steyn word in verband met Zak se “dood” en die sameswering van moord op Jarrod aangekeer. Marinda is Le Roux en Marcel se ma. Sy word by die moord op Glen McGregor betrek.
Augustus: John Barnard (40) word weens die moord op Glen McGregor in hegtenis geneem.