Hul jongste spruit is die afgelope drie maande gereeld siek en loop heeltyd deur onder oorontsteking of -infeksie, vertel sy ma. Die antibiotika en oordruppels; niks het gewerk nie, sê Martelize. Verlede week het hul pediater hulle toe na ’n oor-neus-en-keel-spesialis verwys. Hy het toe besluit dis tyd vir oorpypies."

Dit moes so gou moontlik gedoen word en die enigste dag wat hy dit by die Cure-daghospitaal in Bellville, Kaapstad, kon doen, is Woensdae, vertel Martelize. Toe is dit nou op sy verjaardag. Dit was buite ons beheer. Ons is bly dit is gedoen, want ons voel dit is ’n baie groot geskenk vir hom, want dit bring baie verligting. Hy was regtig ’n groot mannetjie.

Sy ousus, Mijean (5), is vanoggend skool toe. Syt gisteraand vir haar boetie gebid. Dit was te pragtig. Syt vir hom ’n briefie ook geskryf.

Klein Daniel was vanoggend al sesuur by die hospitaal. Hy't so agtuur se kant ingegaan. Gelukkig was hy die eerste mannetjie wat ingegaan het omdat hy die jongste is en hulle mag mos nie eet nie omdat hulle narkose kry. So dit was maar ’n stryd, want ’n baba wat honger is, is mos maar huilerig. Ons almal is maar mislik as ons honger is. Hy was darem nie te erg nie. Hulle het vir hom gesing en gedans en alles. Hy't selfs ’n sertifikaat vir dapperheid gekry wat te oulik is, vertel Martelize.

Sy ore het pypies ingekry en sy adenoïde is verwyder. Foei tog, die ou dingetjie. Hy's so sterk. Ek's baie trots op hom. Alles het maar net opgebou in sy oordrommetjies so hulle het maar net oorpypies ingesit. Hopelik is die pad nou vir ons beter vorentoe, want dis darem nie lekker vir 'n ouer se hart om te sien hoe jou babatjie so sukkel nie.

Hulle beplan ’n lekker partytjie vir hom Saterdag op dieselfde landgoed waar sy ouers afgehaak het. Mijean wil ’n trourok aantrek na die partytjie toe, want dis waar mamma en pappa getrou het, sê sy laggend.