Die sangeres van Come & Get It, by wie die outo-immuunsiekte in 2014 gediagnoseer is, het in Augustus vanjaar aangekondig sy neem ’n onbepaalde blaaskans van haar wêreldtoer ten einde daarop te fokus om gesond te word.

Sy het sedertdien uit die kollig gebly, maar verlede Saterdag is sy opgemerk toe sy bewonderaars in Alcia, Tennessee, groet terwyl sy, haar ma en stiefpa in die Texas Roadhouse-restaurant eet.
Verskeie bronne het aan US Weekly gesê Selena het tyd deurgebring in ’n privaat behandelingsgerief buite Nashville, waar sy probeer om die angs, paniekaanvalle en depressie te bowe te kom waaraan sy ly as gevolg van haar stryd teen lupus. “Selena gee aandag aan lupus, maar hierdie wegbreek is om op haar geestesgesondheid te fokus,” het een van die ingeligte bronne aan die tydskrif vertel. “Haar gemoed kan baie donker raak.”

A photo posted by Selena Gomez (@selenagomez) on

Die besoek aan die rehabilitasiesentrum is haar tweede ronde van behandeling. Sy het in 2014 ’n toer na Australië kortgeknip en by The Meadows in Arizona geregistreer ten einde professionele sorg te kry en chemoterapie te ondergaan. Selena het eers in Oktober verlede jaar haar geheime geveg vir haar gesondheid onthul tydens die uitreiking van haar album Revival. ’n Verteenwoordiger van die voormalige Disney-ster het nog nie kommentaar gelewer op die rehabilitasie-nuus nie, maar dit lyk asof Selena (24) emosioneel beter daaraan toe is nadat sy tyd saam met haar familie deurgebring het. Sy is verlede Sondag saam met haar grootouers by die Riverstone-restaurant in Townsend, Tennessee, opgemerk terwyl hulle ontbyt geniet het en dit het voorgekom asof sy in ’n goeie luim is.

“Sy het tydens die etery baie saam met hulle gelag,” beweer ’n ooggetuie. “Sy het gelukkig en ontspanne gelyk.”

© Cover Media