Robert Hardy, wat die rol van die towerminister Cornelius Fudge in vier Harry Potter-flieks vertolk het, het Donderdag in die ouderdom van 91 gesterf.

Robert se akteursloopbaan het oor sewe dekades gestrek en hy het in meer as 137 flieks verskyn. Om nie van talle televisiereekse en verhoogproduksies te praat nie.

Hy was 'n gerekende Shakespeare-akteur en word as een van Engeland se suksesvolste karakter-akteurs erken ten spyte daarvan dat hy nooit enige formele drama-opleiding ontvang het nie.

Agtergrond

Hy en die rebelse Richard Burton het in die veertigerjare ontmoet toe hulle altwee in Oxford studeer het.

"Ons het mekaar gehaat. Hy't gedink ek's neus in die lug en ek het gedink hy's arrogant."

Die oorlog het egter hul studies kortgeknip en hulle is opgeroep om diensplig in Norfolk te verrig. Dit sou tydens hul opleiding by die koninklike lugmag wees dat die aanvanklike wrewel in 'n jarelange vriendskap sou ontaard.

Richard het nie na sy studies teruggekeer nie, maar Robert het. Twee van sy leermeesters was J.R.R. Tolkien (die Bloemfonteiner van Lord of the Rings-faam) en die legendariese skrywer en digter C.S. Lewis.

Deur sy vriendskap met Richard het hy ook vir Elizabeth Taylor in 1962 ontmoet. Robert het geglo dat die twee absoluut versot op mekaar was maar dat Elizabeth nie juis van groot nulp vir Richard was nie.

“Sy het hom tweede viool laat speel,” het hy gesê.

Robert en die legendariese Judi Dench het in die sestigerjare in 'n BBC-reeks waarin Shakespeare se werke uitgesaai is, verskyn. Hy het haar beskryf as ’n wonderlike mens om mee saam te werk.


Robert was bekend vir sy vurige humeur agter die skerms en het self erken dat hy deel vorm van 'n "moeilike groep mense".

Hy het wel nie Hollywood-roem bereik wat hy graag sou wou nie, maar sy verskyning in die Harry Potter-flieks het daartoe bygedra dat hy wydverspreide internasionale bekendheid onder 'n nuwe generasie verwerf het.


Bekende flieks

Die ouer garde sal beslis die fliek The Spy Who Came in from the Cold (1965) gebaseer op 'n John le Carré-verhaal onthou waarin Richard Burton die hoofrol vertolk het. Robert Hardy het as Dick Carlton sy buiging gemaak.

Hy het die rol van sir John Middleton in die silwerdoekweergawe van Jane Austen se Sense and Sensibility (1995) met Emma Thompson, Kate Winslet, James Fleet en Hugh Grant vertolk.

Twitter se reaksie

Bronne: dailymail.co.uk, bbc.com, itv.com, standard.co.uk