In ’n 2008-Volkswagen-advertensie dien ’n ou VW-kewer een gesin as ’n avontuurmotor, troumotor en gesinsmotor. Toe die gesin se oudste seun 18 word, is dié kar, waarin sy ouers met sy geboorte na die hospitaal toe gejaag het, sy verjaardaggeskenk. Dis mos waarlik ’n gesinsmotor!

’n Gesin wat met dié advertensie kan vereenselwig, is Kobus Theron-hulle.

“Ons VW Jetta is al 32 jaar in die familie en dit het so baie vir ons beteken dat ons dit eenvoudig nie oor ons hart kon kry om dit te verkoop nie,” het Kobus in ’n verklaring gesê. Kobus se skoonpa het in 1982 die Jetta 1500 outomatiese motor vir R7 217 gekoop. “Ek het die kar in 1997 by hom oorgekoop as ’n geskenk vir my vrou. Sy het tot nou die motor bestuur.”

Die motor is in ’n uitstekende toestand, gegewe sy ouderdom. In die afgelope 32 jaar het die motor 108 000 km gereis sonder om ’n enkele krapmerk of duik op te doen. Die oorspronklike matte en sitplekke is steeds in die motor; slegs die voorruit is vervang.

Kobus het die motor met liefdevolle toewyding versorg – die Jetta is jaarliks, of elke 5 000 km, gediens en Kobus het self verseker die olie en ander nodige vloeistowwe is altyd op die regte vlak. Juis daarom wou Kobus nie die motor aan iemand verkoop wat dit nie ewe goed sou versorg nie. “Deur dit aan AutoPavilion te skenk, kan ek en my gesin elke dan en wan by ons motor gaan kuier.”

-Shané Barnard