Johan van Zyl, ’n suksesvolle boer in die Roedtan-distrik naby Mokopane in Limpopo, en ouddeelnemer aan die gewilde realiteitsreeks Boer Soek ’n Vrou, is Saterdag ná ’n motorongeluk oorlede.

Netwerk24 berig Johan het glo Vrydagaand omstreeks 22:00 beheer oor sy bakkie op ’n grondpad in die Roedtan-distrik verloor. Hy is per helikopter na die hospitaal vervoer, maar het later beswyk.

Johan (58) laat twee dogters, Monique (27), Juanita (26) en ’n seun, Johan jr. (23), agter. Hy was een van Suid-Afrika se grootste produsente van sonneblomolie en hy het ook met beeste en wild geboer.

Hy was ’n baie gewilde deelnemer aan die 2011-seisoen van Boer Soek ’n Vrou en is tot op hede steeds een van die boere wat nog die meeste briewe van vroue gekry het.

’n Familievriend, MariniQue Terblance, het op Facebook geskryf Roedtan is voortaan "leeg" sonder Johan. "Oom sal altyd ’n baie groot voorbeeld vir ons wees. Oom gaan baie gemis word! Sterte aan sy familie en vriende," het sy geskryf.