Mary Tyler Moore, die aktrise wat in die 1960’s en ’70’s baanbrekerswerk verrig het om vroue in ’n nuwe lig te stel, is Woensdag in die ouderdom van 80 oorlede.

Mary, die vrou wie se glimlag die wêreld kon ophelder, het bekendheid verwerf as die ster in The Dick Van Dyke Show, waarvoor sy twee Emmys en ’n Golden Globe ontvang het.

Maar dit was nie net haar glimlag wat die koppe laat draai het nie. Sy was na bewering die eerste vrou wat gereeld langbroeke op die kassie gedra het.

Die regisseur Carl Reiner het Mary as “daardie meisiekind met die drie name en snaakse neus” beskryf. Ongeag daardie onvleiende beskrywing het sy hom so betower dat sy die rol van Laura Petrie in The Dick Van Dyke Show gekry het.

Nadat Carl van haar heengaan te hore gekom het, het hy Mary as die verpersoonliking van grasie beskryf.

“Sy kon nie ’n voet verkeerd sit nie. Dat sy haar loopbaan as danser begin het, was sprekend in alles wat sy daarna aangepak het. Haar grasie was onmiskenbaar. Ek het dit gesien eerste keer toe sy my kantoor binnekom,” het hy gesê.

Suid-Afrikaners sal haar veral onthou vir haar rol as Mary Richards in haar televisiereeks The Mary Tyler Moore Show, wat in die 1970’s plaaslik vertoon is.

Cloris Leachman (90), wat die rol van Phyllis Lindstrom in die reeks vertolk het, sê haar hart gaan uit na Mary se man, Robert (62). “Hy was nooit verder as ’n aanraking weg van haar nie.” Die akteur Ed Asner (87), wat haar baas in die reeks vertolk het, het onder meer op Twitter gesê: “Weet dat ek lief is vir jou en glo in jou krag.”
Selfs Michelle Obama, voormalige presidentsvrou van Amerika, het groot lof vir die aktrise en haar reeks, The Mary Tyler Moore Show, gehad. “Sy was een van die min vroue wat destyds as enkellopende, werkende vroue op televisie uitgebeeld is. Ek was waarskynlik 10 of 11 toe ek dit gesien het en dit het my laat dink, ‘Jy weet wat? Trou is ’n keuse. Om ’n gesin te hê is ’n keuse. Om jou opvoeding te verbeter en jou loopbaan te bou is ook ’n keuse wat tot vreugde en vervullig kan lei,” het sy aan die tydskrif Variety gesê. Oprah Winfrey het hierdie foto op Twitter gedeel. Dit is in 1997 geneem tydens die Oprah Winfrey Show.

Sy het in ’n verklaring gesê hoe groot Mary se invloed op haar lewe en loopbaan was. “Ek het haar respekteer en haar sin vir besigheid bewonder, haar passie en haar deernis vir alle lewe en veral die waardes wat sy deur haar stories gevestig het. “Ek sê dankie dat die lig wat sy was, so helder geskyn het dat ek myself in haar kon sien.” Viola Davis, veral bekend vir haar rol in The Help (2011) en Suicide Squad (2016) eer Mary as die vrou wat televisie verander het.

Meer oor Mary Tyler Moore

1. Sy is op 29 Desember 1936 in Brooklyn Heights gebore. Haar familie het na Kalifornië getrek toe sy agt jaar oud was. 2. Haar pa, George Tyler Moore, en haar ma, Margery Hackett, was albei alkoholiste en Mary het hulle later as “onvolmaakte ouers” beskryf. 3. Mary het verkies om by haar tante eerder as haar ouers te bly. 4. Op 17-jarige ouderdom verskyn sy in ’n reeks televisieadvertensies vir Hotpoint-tuistoestelle.

5. Mary en haar tweede man, Grant Tinker, was die breinkrag agter MTM Enterprises. Die maatskappy se gelukbringer was ’n miaauende katjie wat so half die spot gedryf het met MGM se brullende leeu.

6. Vir haar rol in die film Ordinary People het Mary ’n Golden Globe-gewen en ’n Oscar-benoeming ingepalm. 7. Mary het in 1984 in die Betty Ford Center behandeling vir haar stryd teen alkoholisme ontvang. 8. Sy het sedert haar dertigs tipe 1-diabetes gehad. 9. In 2011 het sy ’n breinoperasie ondergaan om ’n gewas te laat verwyder. Bronne: vogue.com, pbs.org, variety.com, cnn.edition.com

Twitter se reaksie