Die geliefde kortverhaalskrywer Margaret Bakkes is Woensdagaand in haar tuisdorp, Paarl, oorlede, berig Netwerk24.

Die skrywer van Elegie vir ’n Onbekende was 84 jaar oud.

Tydens haar skrywersloopbaan, wat oor die afgelope ses dekades gestrek het, het Margaret talle romans, kortverhale en versamelbundels gepubliseer. Van haar romans sluit in Hou Terug die Winter, ’n Ver Plek vir Zilla en Susanna die Geliefde.

Margaret se man, Cas Bakkes, is in Januarie vanjaar ná ’n lang siekbed in die ouderdom van 90 oorlede. Margaret en Cas word oorleef deur drie seuns, Johan, Marius en Christiaan, en ’n dogter, Mathilda.

Johan en Christiaan het in hul ma se voetspore gevolg en self skrywers geword. Hennie Aucamp was haar kleinneef.

Die Bakkesse het jare lank in Pretoria gewoon en later ook in Saldanha waar Cas aangestel was as dosent aan die militêre akademie daar. Margaret en Cas het later in die Paarl gaan aftree.

Haar laaste roman, Fado vir ’n Vreemdeling, het in 2011 by LAPA verskyn.

Bronne: Netwerk24; LitNet