Hierdie bekroonde skrywer, gebore as Susanna Jacoba, was die ma van die bekende Afrikaanse digter Antjie Krog. Dot het ook onder die skuilname S.J. Nasau en Luca Fick geskryf.

Haar seun Willem Krog het die hartseer nuus vroeg Vrydagoggend op sy Facebookblad aangekondig.

"My ma, Dot Serfontein, is vanoggend in haar slaap oorlede. Sy was 91 jaar oud. Vir die familie het die aarde geskuif, onherroeplik. Haar lewe, wat ons kinders was, asook haar kleinkinders, het lengte, breedte, hoogte, tyd en ruimte in beslag geneem. Soos sy was, so sal ons haar onthou," het Willem geskryf.

Huldeblyke het kort daarna ingestroom, met die bekende Protea boekwinkel op Stellenbosch wat op hul Facebookblad geskryf het dat Dot 'n "onuitwisbare spoor in ons letterkunde nagelaat" het.

Dot is op 30 April 1925 in Kroonstad gebore. Haar pa was 'n bekende Afrikanerbeesboer in die distrik. Sy het die bynaam Dot gekry omdat sy as klein dogtertjie nie “dogtertjie” kon sê nie, maar net “dottertjie”.

Sy is in 1951 met die geskiedkundige en politikus Willem Krog getroud. Die egpaar het drie seuns (Vyver, Kootjie en Willem) en twee dogters, Antjie Krog en Jeannette (Pennie).

Haar man is in 2002 aan nierversaking oorlede.

Haar outobiografie, Vrypas, het in April 2009 verskyn. Kort voor haar 88ste verjaardag (in 2013) het die Klein Karoo Nasionale Kunstefees haar vir haar lewensbydrae tot die verruiming en verryking van die leefwêreld van Afrikaans met die Afrikaans Onbeperk-prys vereer.