Die skeppende geen het duidelik heel goed nesgeskop in die geliefde skrywer Marita van der Vyver se dogter.

Die 16-jarige Mia het op 17 September ’n video getiteld I’m Ugly op YouTube gelaai en dié video is al amper 100 000 keer gekyk.

Marita het Maandag op Facebook geskryf: “Die goeie nuus is dat Mia ’n tjek van YouTube/Google gaan kry vir haar video, wat opslae maak. Dit is al amper 100 000 keer gekyk en die kykertal styg steeds.

Die video wys hoe die jong meisie uit haar bed klim, grimering aansit, klere aantrek en terselfdertyd in haar dagboek skryf dat sy lelik, vet, vals en walglik is.

Wanneer sy haarself dan ten volle getransformeer het, kom sy tot stilstand en begin dan skielik al haar modieuse klere uittrek en grimering afhaal tot sy op ’n punt kom waar sy heeltemal gemaklik voel.

Dan skryf sy in haar dagboek: “Beste Dagboek. Ek is myself.”

Mense op Marita se Facebook-profiel het haar uit alle oorde gelukgewens met haar talentvolle dogter. “Ek is beïndruk en ontroer. Geluk, Mia,” skryf Jalna Schumann.

Ingrid Steyn skryf: “Dit is die eerste keer dat ek dié video sien. Dit het so ’n sterk boodskap. Absoluut ideaal vir tieners. Geluk met ’n tiener wat so ’n goeie selfbeeld het.” Waarop Marita antwoord: “Ek is baie trots dat sy op so ’n jong ouderdom so ’n positiewe boodskap kan uitdra.”