Drie mense is Saterdag deur paramedici ondersoek nadat ’n geldwa gedurende ’n kontant-in-transito-rooftog op die R24 in Johannesburg ontplof het, bevestig paramedici. “Paramedici van ER24 het kort voor 11:00 op die toneel aangekom waar hulle ’n opgeblaasde transitovoertuig aangetref het,” sê Werner Vermaak, woordvoerder van ER24.  

“Twee sekuriteitswagte is op die toneel gevind. Albei is ondersoek, maar het geen fisieke beserings opgedoen nie.”

Volgens Werner het ’n tweede insident gedurende die ontploffing plaasgevind toe oorblyfsels van die opgeblaasde voertuig op ’n ander kar geval het.

“Die bestuurder van die voertuig is ook deur paramedici ondersoek, maar was ook ongedeerd.”

Pendelaars is aangesê om verkeersvertragings naby OR Tambo-lughawe te verwag.

Volgens lt.kol Lungiso Dlamini, woordvoerder van die polisie, het ’n onbekende aantal rowers op die transitovoertuig toegeslaan.

Hulle het weggekom  met ’n onbekende bedrag kontant, sowel as een sekuriteitswag se vuurwapen.

Die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof.

– Paul Herman

Bron: News24