Die polisie in Limpopo het 'n groot taakmag van stapel gestuur nadat gewapende rowers tussen 06:00 - 07:00 Dinsdagoggend op 'n geldwa toegeslaan het.

Daar was vermoedelik minstens 10 rowers in drie verskillende voertuie by die rooftog betrokke.

Die drie voertuie is 'n swart BMW-motor, 'n Mercedes Benz C200 en 'n wit Mercedes Benz ML, registrasienommers onbekend.

Sake van gewapende roof (transitoroof) en poging tot moord is geopen.

Enigeen met meer inligting word dringend versoek om brig. James Espach (082-576-0743), kapt. Sotlo Boshomane (079-894-5501), die naaste polisiestasie of Crime Stop (0860-010-111) te bel. 'n SMS (R1 per SMS) kan ook anoniem aan Crime Line (32211) gestuur word.

Vroeër vandag

Dinsdagoggend is die R71 tussen Tzaneen en Gravelotte in die rigting van Phalaborwa gesluit nadat rowers op nog 'n geldwa toegeslaan het.

Volgens die aanlyn nuusdiens Polokwane Review word motoriste aangemoedig om die R36 of die pad na Giyani te gebruik terwyl die R71 gesluit is.

Die pad sal na verwagting minstens vier uur lank gesluit wees.

Die ontploffing, wat veral die sykant van die geldwa oopgeruk het, het daartoe gelei dat tientalle geldnote oor die hele toneel versprei is.

In hierdie stadium is die polisie se forensiese span op die toneel.