Minstens sewe mense, onder wie ’n paar polisiemanne, is dood nadat militante ’n reeks oënskynlik gekoördineerde skiet- en bomaanvalle in die hartjie van die Indonesiese hoofstad, Djakarta, uitgevoer het.

Volgens SkyNews en Al Jazeera is sewe sterftes bevestig in die aanvalle op verskeie plekke, onder meer ’n inkopiesentrum. Minstens drie van die oorledenes was burgerlikes. Die polisie vrees meer as ’n dosyn aanvallers is dalk betrokke. Party het op veiligheidsmagte geskiet en is nog op vrye voet.
Een van die teikens in Donderdag se aanvalle was ’n polisiekantoor langs ’n besige winkelsentrum, die Sarinah Thamrin-plaza. Verdagtes het granate gegooi en in ’n skietgeveg met beamptes betrokke geraak. ’n Nabygeleë Starbucks is ook aangeval.

Jeremy Douglas, ’n beampte van die Verenigde Nasies (VN), het aan die BBC gesê hy was sowat 150 m weg van een van die eerste ontploffings af naby ’n VN-gebou.

Verskeie ander ontploffings het gevolg.

Anton Aharliyan, nasionale polisiehoof, het aan AFP gesê polisiebeamptes en burgerlikes is onder die slagoffers. Hy het bygevoeg tot dusver is niemand nog in hegtenis geneem nie en niemand het nog verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar nie. Ooreenkomste word egter getref met die aanvalle in Parys in November verlede jaar, toe aanvallers ook verskeie plekke tegelyk aangeval het. Dit verhoog die vrees dat Isis dalk betrokke kan wees. Bronne: BBC, CNN, SkyNews, Al Jazeera