Die polisie het laat Vrydagmiddag ’n foto van die vermiste babadogtertjie beskikbaar gestel.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Marshall Security, sê Netstar, die SAPD en die Metropolisie was Vrydagmiddag by die voertuig wat teruggevind is in Moodysingel in die voorstad Montclair.
“Daar is geen teken van die baba nie, al is die voertuig teruggevind.” ’n Polisiewoordvoerder, lt.kol. Thulani Zwane, het gesê ’n ma, haar baba en agtjarige seun het in hul wit Toyota Yaris gesit toe twee gewapende mans hulle nader.
“Hulle het die motorsleutels geëis en met hul voertuig en maand oue baba binne-in weggejaag. ’n Saak van motorkaping is by die sentrale polisiekantoor aanhangig gemaak. Die baba word steeds vermis.”
Intussen het ’n anonieme East Coast Drive-luisteraar ’n beloning van R10 000 aangebied vir iemand wat inligting kan verskaf wat kan lei tot die vonds van die baba. Platejoggie Phat Joe het onmiddellik aangedui dat hy ook R10 000 tot die beloning sal bydra.