Dié merkwaardige voorval het verlede week in München, die hoofstad van die Duitse staat Beiere, plaasgevind.

Die negejarige seun, wie se naam om privaatheidsredes nie bekendgemaak mag word nie, se ouers het hom verbied om ná agtuur die aand na ’n speelgrond te gaan en hy was verplig om by die huis te bly.

Die seun was kwaad vir sy ouers en het besluit om hulp te ontbied. Toe skryf hy ’n brief waarin hy smeek: “Help, ek word as gyselaar aangehou. Bevry my: Breisacher-straat 14.”

Hy het die brief in die vorm van ’n papiervliegtuig opgevou en dit by sy venster uitgegooi.

Hy het die brief in die vorm van ’n papiervliegtuig opgevou en dit by sy venster uitgegooi. Foto: Magazine Features

Later die aand het ’n verbyganger die stuk papier gekry en dit aan die polisie oorhandig. Dié het dadelik veelvuldige gewapende eenhede na die straat gestuur uit vrees vir ’n moontlike gyselaarkrisis.

Maar die polisie het kort voor lank agtergekom dit was ’n vals alarm, want die seun het erken hy was net kwaad omdat hy nie speelgrond toe mag gaan nie.

Bisar genoeg het die plaaslike media berig die koms van die polisie het die seun nie daarvan weerhou om ná die voorval nog papiervliegtuie by sy venster uit te gooi nie. 

Sy ouers het sedertdien belowe hulle sal “ ’n ernstige gesprek” met hom voer om te verhoed dat nog gyselaardramas ontwikkel.