Durban – Die foto het intussen blitsvinnig op die internet versprei.

Nicci Redelinghuys het ’n foto op Facebook gedeel waarin sy noem dat sy haarself afgeneem het terwyl sy op die snelweg gery het. Sy het daarby geskryf: “Ek het gister ’n selfie geneem terwyl ek op die N3 gery het. Ek het aanhoudend na die kamera gekyk en vergeet om my oë op die pad te hou. Maar ek dink ek het dit toe eindelik reggekry. Maar ek lyk steeds k**bang.” Die foto het soos ’n veldbrand op sosialemedianetwerke versprei en is uit talle oorde skerp veroordeel. Nicci het teruggekap op die kritiek deur ander foto’s te deel wat sy geneem het terwyl sy bestuur, onder meer een waar sy ongeskikte handgebare wys.

B**ches be b**ches, ongelukkig verstaan sekere mense nie dat ek goed bestuur nie.

In kommentaar op die aanvanklike foto, het sy geskryf: “B**ches be b**ches, ongelukkig verstaan sekere mense nie dat ek goed bestuur nie. Danksy my pa, drie keer ’n SA kampioen!”

Nathi Sukazi, woordvoerder van die provinsiale vervoerdepartement, het die student skerp veroordeel. “Ons veroordeel onverantwoordelike gedrag deur enigeen op ons paaie. Sulke gedrag wat doelbewus ander padgebruikers se lewe in gevaar stel, moenie in ons samelewing toegelaat word nie, veral met die voortslepende slagting op ons paaie,” sê hy.

“Ons moet almal ’n standpunt inneem om die onwettige, selfdood- en onverantwoordelike gedrag te stop, en ons pleit by motoriste dat niemand dit doen nie.”

Die Suid-Afrikaanse Geregtigheidsprojek het die foto getwiet en daarby geskryf: “Is almal so dom? Moenie eens moeite doen om te reageer nie. Dis ’n retoriese vraag.”

Herhaalde pogings om Nicci vir kommentaar te kontak, was onsuksesvol.

Haar pa het intussen aan News24 bevestig dat sy dogter gehok is. Hy het haar gedrag ten sterkste veroordeel.

"Niemand sal met haar praat nie. Ek het al haar sosiale media rekeninge gesluit en haar selfoon afgevat. Sy is toegesluit by die huis," sê hy.

"Ek dink dit was 'n kinderagtige toertjie en dat sy ongelooflik baie skade aangerig het. Ek is ten volle bewus van hoe ernstig die kwessie is en het dit aangespreek."

Haar pa, wat aan motorwedrenne deelneem, is veral vies omdat sy dogter "al sy harde werk ongedaan gemaak het.

"Ek het die afgelope vier jaar nou saamgewerk met voorheen benadeelde motorwerktuigkundiges om hulle te leer hoe om taxi's en soortgelyke voertuie behoorlik te diens."

Hy sê sy dogter se gedrag gaan teen hierdie goeie dade van hom.

"Ons besef hoe ernstig hierdie situasie is. Daar is elke dag noodlottige ongelukke en sterftes op die pad."

News24