Nikki Pegram (28) van Brittanje het verlede jaar geval en haar kop teen ’n metaalpaal gestamp. Sedertdien ly sy aan retrograde geheueverlies, wat beteken sy kan nie nuwe herinnerings vorm nie. Nou moet sy op ’n notaboek, haar “geheueverliesdagboek”, staatmaak om haar nege maande te laat inhaal, berig die Mirror.

Dit klink dalk soos iets uit ’n Hollywood-rolprent, maar Nikki, die ma van die vierjarige Freddie, sê dis ’n nagmerrie.

“Ek weet nie hoe elk elke oggend voel nie, maar vandag onthou ek net ek het bang gevoel. Dit voel nie eg nie.” Om haar te help, druk sy saans ’n briefie onder haar kussing in waarop staan: “Lees sodra jy wakker word.” Elke dag moet haar lewensmaat, Chris (39), haar laat sit en verduidelik wat gebeur het – en elke oggend dink sy hy skeer die gek met haar.

'Geheueverlies is nie so prettig en komies soos die fliek dit laat lyk nie.'

“Wat met Drew Barrymore se karakter in 50 First Dates gebeur, gebeur elke dag met my. Geheueverlies is nie so prettig en komies soos die fliek dit laat lyk nie.

“Ek het Kersfees, gesinsvakansies en selfs my eie verjaardag misgeloop, want ek kan niks ná die ongeluk onthou nie.”

Die laaste ding wat Nikki kan onthou, is die hospitaalafspraak wat sy voor die ongeluk gehad het. Sy het ’n dokter besoek oor ’n kniebesering wat sy in ’n skopboksklas opgedoen het.

“Ek het gehoor ek het gewag dat Chris my moet kom oplaai en in daardie tyd moes ek my balans verloor en geval het. Maar ek kan niks daarvan onthou nie.”

Sy is in dieselfde hospitaal behandel en die volgende dag ontslaan. Maar twee dae later het Chris besef iets is nie pluis nie.

“Ek het agtergekom ek en Nikki voer dieselfde gesprekke as die vorige dag. Ek het haar dan herinner, maar sy kon niks onthou nie,” sê Chris.

Hulle is terug hospitaal toe, waar korttermyn-geheueverlies by haar gediagnoseer is.

Sy kry behandeling by ’n breinkliniek by ’n plaaslike hospitaal en die dokters sê dit is moontlik dat haar geheue kan terugkom.

“Dis aaklig om te besef jy het nege maande van jou lewe verloor,” het sy aan die Sun gesê. “Die moeilikste deel van my dag vandag was om te hoor ek het nie meer ’n werk nie as gevolg van die ongeluk.

“Boonop is my seun nege maande ouer as wat ek hom onthou en hy is so groot.”

Bronne: thesun.co.uk, mirror.co.uk, westerndailypress.co.uk