Die kaal lyk van ’n onbekende man, ongeveer 35 jaar oud, is Donderdag naby Matiyani buite Malamulele deur wildbewaarders van die Krugerwildtuin gevind.

Volgens lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, is daar geen sigbare wonde of beserings aan die man se lyf te bespeur nie.

Inwoners van Matiyani en die omliggende gebiede het ook aangedui dat die man vir hulle ’n vreemdeling is. Die man is donker van kleur en het kort hare.

Enigeen wat die polisie meer inligting kan bied, word versoek om ao. Chauke by 082-723-1929 of hul naaste polisiestasie te bel.

Intussen word die lyk by die Saselamani-polisiekantoor gehou sodat dit toeganklik is vir mense wat die man dalk kan identifiseer.

Die ondersoek duur voort.

Bron: news24.com