’n Gewese nutsman by die Portugese oord waar die McCann-gesin gebly het, het ’n brief op die misdaadtoneel gevind wat beweer Madeleine McCann se lyk is in ’n meer gestort, berig The Mirror.

Die anonieme wenk is op die eerste herdenking van haar verdwyning voor die deur van woonstel 5A in Ocean Club in Praia da Luz gelos. Die nutsman het gesê hy het die nota, wat in Portugees geskryf is en die briefhoof “Madeleine Beth McCann” het, onmiddellik aan die polisie oorhandig. Dit beskryf hoe Maddie se lyk in die Barragem da Bravura-reservoir, sowat 15 km van die oord, gestort is.

“Dit het daardie aand gereën en was dus sopnat toe ek dit sien,” het hy gesê. “Madeleine se naam het duidelik boaan gestaan. Dit is in Portugees geskryf. Onderaan was ’n aanduiding van haar beweerde laaste rusplek.”

“Ek het met die ander personeel daaroor gepraat en hulle het gesê ek moet dit aan die Portugese polisie oorhandig. Ek het dit vir hulle gegee, maar ek weet nie wat hulle daarmee gedoen het nie. Dit sou die perfekte plek wees om ’n lyk weg te steek.”

Terwyl die polisie vyf maande ná Maddie se verdwyning in 2007 die omliggende woud deursoek het, was daar nog nooit ’n onderwater ondersoek van die reservoir nie.

Maddie (toe 4) het in Mei 2007 van die oord in Praia da Luz verdwyn nadat haar ouers, Kate en Gerry, haar en haar broers en susters by die oord gelos het om ’n nabygeleë tapas-kroeg te besoek.

Bronne: mirror.co.uk, ibtimes.co.uk