Dis ’n rustige aand in ’n hotel in Howick, ’n idilliese dorpie in die KwaZulu-Natalse Middelland. Genadiglik, want ons het ’n bedrywige dag agter die rug op die spoor van Howick se miste-

rieuse multi-miljoenêr.

Maar Rob Taylor, die weldoener wat nou die dag in opdrag van ’n droom sy luukse Audi R8 van R2 miljoen aan agt motorwagte in Kaapstad present gegee het, blyk die dorp se bes bewaarde geheim te wees.

Ook van die dorpenaars hier het al ruim ontvang uit die oop hand van die eksentrieke sakeman met die passie vir valskermspring, maar hulle rep nie ’n woord oor hul weldoener of sy dade nie.

“Nee, ek is jammer, ek kan nie daaroor praat nie,” sê ’n bejaarde man toe ons hom uitvra oor ’n huis in een van Rob se luukse ontwikkelings wat hy aan hom geskenk het. Hy sit haastig die foon neer.

“Hy is ’n uiters private man en daar is intense belangstelling in sy lewe, maar hy deel nie persoonlike inligting nie,” lig Gerhard Walkinshaw, ’n vrywilliger by die FreeMe Wildlife Rehabilitation Centre waar beseerde wilde diere versorg word, ons in. “Wat ek jou wel kan sê, is hy praat nie, hy doen. As hy iets wil laat gebeur, sal dit gebeur.”

Rob self is onbereikbaar sedert sy ruimhartige skenking in Kaapstad hoofopskrifte in die koerante gehaal het.

“Ons weet nie waar hy is en wanneer ons hom weer te sien gaan kry nie,” sê die vroue wat sy kantoor beman.

Dié Robin Hood wat self die geld verdien wat hy weggee, doen dit met een voorwaarde, blyk dit: Hy wil nie bespreek word nie.

Maar iemand het die volgende aan Huisgenoot laat val: “Het julle gehoor van die aand toe hy en die platejoggie vasgesit het?”

Praat ons nou van die man met die groot hart wat volgens sommige (dalk ietwat oordrewe) mediaberigte al glo meer as R140-miljoen weggegee het?

“Einste,” bevestig die bron.

Lees meer oor Rob Taylor asook die beweerde aanranding in die Huisgenoot van 28 Januarie 2010.