Ná die man, wat slegs as ‘UP’ bekendstaan, verlede jaar met sy meisie uitgemaak het, was hy nie lus om Vrydagaand tussen vryerige paartjies in die fliek te sit nie. Daarom het hy elke tweede sitplek vir vanaand se vertoning van die romantiese komedie Beijing Love Story by Shanghai se Xintiandi winkelsentrum bespreek.

’n Skarefinansieringsveldtog het dié anti-Valentynsdagfoefie befonds. Enkellopendes het aanlyn geld vir die kaartjies geskenk, want UP kon nie al die kaartjies alleen bekostig nie.

“Ek hoop paartjies verstaan dis net ’n klein grappie,” het die man gesê, wat hom in die Shanghai Morning Post as ’n rekenaar-bleeksiel beskryf.

Ná UP en sy enkellopende vriende elke tweede sitplek vir die fliek opgekoop het, sal geen paartjie in dié fliek vanaand langs mekaar kan sit nie.

“Gee ons enkellopendes ook ’n kans,” lees UP se boodskap.

Bronne: Daily Mail, Shanghai Morning Post