Die oud-Puk wat onverwags dood is in Viëtnam waar hy as 'n Engelsonderwyser gewerk het, word Vrydag begrawe.

[caption id="attachment_144075" align="alignnone" width="600"]Colin Wheeler is onverwags in Vietnam dood. Foto: Facebook Colin Wheeler is onverwags in Vietnam dood. Foto: Facebook[/caption]

Jacques Steenkamp het namens die familie op die Facebook-blad Bring Colin Home geskryf Colin Wheeler (24) is dood nadat sy organe ingegee het. Die oorsaak is onbekend.

Andria Nortjé, familiewoordvoerder, het aan Huisgenoot bevestig die Wheeler-familie gaan nie 'n nadoodse ondersoek laat doen nie.

Die familie wou self nie kommentaar lewer nie.

Volgens Jacques het Colin op 6 Augustus vanjaar in Hanoi, die hoofstad van Viëtnam, aangekom. Hy het deeltyds klas gegee in Engels.

Colin is op 10 Oktober in die hospitaal opgeneem. Vier dae later het Colin se ma, Erika, in Hanoi aangekom.

“Sy het die voorreg gehad om deur al die pyn Colin se hand vas te hou tot hy gesterf het,” skryf Jacques.

Op 18 Oktober het Colin se pa, André, ook in Hanoi aangekom. Colin is daardie dag oorlede met sy ma en pa langs sy bed.

“Die oorsaak van Colin se dood is orgaanversaking. Die rede daarvoor is nog onbekend. Die hospitaal het vermoed dat dit weens malaria was, maar Colin se bloed is spesifiek vir malaria getoets en die uitslag was negatief.”

Dit was ná Colin se dood dat dinge moeilik geraak het vir die Wheeler-gesin omdat die hospitaal geëis het die mediese rekening van sowat R340 000 moet eers betaal word voor die gesin Colin se oorskot kan kry. Die eerste deur waar die familie aangeklop het, was by die Suid-Afrikaanse ambassade, maar die deure het toegeklap.

André het toe “uit liefde vir sy seun” voorgestel die hospitaal oorhandig Colin se oorskot en in ruil daarvoor sou hy sy paspoort vir hulle gee. Die hospitaal het ingestem.

Colin se lyk is op 22 Oktober van Hanoi na die O.R. Tambo-lughawe gevlieg. Die koste hieraan verbonde was nog sowat R115 000. Erika het dieselfde dag teruggevlieg Suid-Afrika toe.

Intussen kon die familie al die geld met die hulp van barmhartige Samaritane bymekaarmaak. André is ook al terug in Suid-Afrika.

Volgens die Facebook-blad word Colin Vrydag om 11:00 vanuit die NG kerk Potchefstroom-Grimbeekpark begrawe. Die teraardebestelling sal om tweeuur op Parys plaasvind.

“Ná die teraardebestelling gaan ons die begin van Colin se nuwe lewe vier by die Vaalrivier,” skryf Jacques.