Sy veg al 10 jaar teen anoreksie, maar kan nie van die uitmergelende psigologiese siekte herstel wat al so ver gevorder het dat sy nie meer alleen kan loop nie.

Volgens haar man, Rod, wat uit sy werk moes bedank om haar 24 uur per dag te versorg, het sy al verskeie bloedoortappings gekry en bloedklonte asook hart-, lewer- en nierversaking gehad.

“Geen hospitaal sal my nou opneem nie,” sê Rachael op die video. “Daar is slegs een hospitaal in die hele land wat my kan help en my kanse is uiters skraal.”

Sy het die video op die internet geplaas om geld in te samel sodat sy na ’n sentrum in Denver kan gaan vir behandeling wat hopelik haar lewe sal red.

“Ek wou nog nooit iemand se hulp vra nie. Ek het jou hulp nodig, ons het jou hulp nodig, anders het ek nie ’n kans nie, en ek is gereed om gesond te word. So, asseblief, as daar iets is wat jy kan doen om my lewe te red, doen asseblief wat jy ook al kan. . . enigiets sal help.”

Rod het ’n GoFundMe-blad opgestel en hy verduidelik daar hoekom hy dink die spesifieke inrigting is die enigste een wat sy vrou, wie se gedagtegang dikwels dwaal omdat sy so ondervoed is, kan help.

?Dit is die enigste hospitaal in die land wat daarin spesialiseer om pasiënte met so ’n lae liggaamsmassa te hervoed en dit is my doelwit om haar daar te kry,? het hy geskryf.

?As sy te veel kalorieë inkry, sal haar metabolisme in opstand kom en sal sy selfs nog meer gewig verloor. Dit is ’n uiters delikate mediese situasie. Hospitale wil haar nie opneem nie, want sy is ’n las vir hulle. Sy voldoen nie aan hul minimum gewigsvereistes nie en hulle het nie die kennis of die bevoegdheid om haar te kan help nie.“

Dr. Michael Strober, professor in psigiatrie en leier van die eetsteuringsprogram aan die UCLA Resnick Neuropsigiatriese Hospitaal, het aan ABC News gesê “hervoeding” is ’n moeilike proses. “As die kalorieë te vinnig vermeerder word, kan dit lei tot die metaboliese aanpassing wat ’n aantal potensieel lewensgevaarlike risiko’s kan inhou.”

Ekstra bronne: news.com.au, abcnews.go.com